Normaal? - deur Jacques Kotze
- Herman Blackie
- Jul 21, 2020
- 4 min read

Ons as wedergebore Christene lewe hierdie bonatuurlike lewe waarin min dinge "normaal" is, maar met tyd raak ons gewoond aan die "nie-so-normale" dinge en dit word vir ons maar weer normaal.
Wanneer ons met mense gesels wat nog van die wêreld is, vergeet ons dat die goed wat verander het in ons lewens glad nie normaal is volgens die wêreld se standaard nie. Die wêreld ken dit nie.
Een van twee dinge gebeur: mense kan of dink dat jy maar nog altyd 'n goeie persoon is of 'n goeie lewe gehad het en so dink hulle dat die dige in jou lewe wat hulle sien normaal is vir jou. Of. Mense kan dink dat jy eintlik maar beleef wat hulle beleef in die lewe en maar deur dieselfde normale goed gaan.
Wanneer ons besef in ons eie lewe dat dinge wat ons beleef in Jesus, glad nie normaal is nie, al het ons die abnormaliteit daarvan vergeet, kan ons daai gaping kruis om vir ander die bonatuurlike abnormale wonderwerk van 'n nuwe skepsel te wys.
Byvoorbeeld, hier is situasies wat "normaal" is volgens die wêreld:
Dit is "normaal" vir 'n jong man om te sukkel met, of verslaaf te wees aan, masturbasie en pornografie.
Dit is "normaal" vir 'n wit man uit die platteland om rassisties te wees en swart mense te vloek en te haat.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om alkohol te misbruik en dronk te word by kuiers.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om meisies te gebruik net om te sien hoeveel geluk hy kan kry.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om kwaad en ongeduldig te word wanneer hy moet wag vir iets of nie sy sin kry nie.
Hierdie is nou hoe die nuwe normaal lyk vir bogenoemde situasies, volgens God se perspektief en krag:
Dit is "normaal" vir 'n jong man om nie te sukkel met masturbasie of pornografie nie, maar om in totale vryheid te wandel daarvan (al is dit soms 'n proses om vryheid te beleef). Want, Jesus gee vergifnis EN vryheid, asook self beheersing.
Dit is "normaal" vir 'n wit man uit die platteland om nie rassisties te wees nie en swart mense lief te hê en oor die weg te kom met hulle. Want, Jesus se liefde vir jou, spoel oor na liefde vir ander.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om glad nie alkohol te misbruik nie en vir jare nie dronk te word nie. Want, Jesus maak die soeke na geluk en vryheid klaar en vul die leemte.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om nie meisies te gebruik nie en weg te draai van situasies af wat daartoe kan lei. Want, hy sien God se hart vir verhoudings en hoe seer dit Vader, die ander persoon en homself maak as dit gebeur.
Dit is "normaal" vir 'n jong man om glad nie kwaad en ongeduldig te word nie, inteendeel, om moeilike situasies met rustigheid aan te pak. Want, as jy 'n lemoen onder druk sit, kom daar lemoensap uit, as jy 'n geesvervulde persoon onder druk sit, kom die vrug van die Gees uit.
Mag ons die kontras sien tussen bogenoemde "norms". Dit mag dalk klink soos twee aparte persone, uit verskillende agtergrond en omstandighede, maar dit is nie.
Dit is die kontras van een en dieselfde persoon. Die een is die norm van die wêreld van 'n spesifieke persoon se lewe voor hy die Here geken het (alhoewel hy elke Sondag kerk toe gegaan het en al die ander "regte dinge" gedoen het, dit was nie uit sy hart nie).
Die ander, die norm van daardie selfde persoon se lewe nadat die Here hom gered het en hom skoongewas het van ou patrone en hom al hoe meer vry kom maak het van vorige seer.
Mag ons die krag sien in hoe God "norms" skuif in mense se lewens.
As jy jouself bevind, na die lees van die stuk, in die "normaal" van die wêreld: Daar is goeie nuus, dit is nie die enigste manier om te leef nie en jy hoef nie vir altyd daar te bly en so te leef nie. God het Sy enigste Seun Jesus gestuur om vir ons te sterf vir vergifnis en vryheid. Hy het opgestaan, opgevaar en Sy Gees gestuur wat in ons kom woon en ons krag gee om Hom te volg en vryheid te beleef. Maar, jy gaan moet besef en erken dat jy (net soos bogenoemde persoon) in 'n rigting oppad is wat tot die dood lei en wat nie Jesus erken as Here/Koning nie. As jy dit sien en erken en regtig Hom wil volg, dan is Sy deur nou oop vir jou. Roep Hom aan, maak Hom koning van jou lewe, in woord EN in daad. Hy sal jou verander van slaaf na vry-man. As jy na Hom toe draai, sal Hy jou Sy seun/dogter maak.
As jy jouself bevind in die kategorie van "normaal" volgens God se perspektief en krag: Mag jy weereens besef watse bonatuurlike werk jou verlossing was, God die eer gee daarvoor, jouself verheug daarin en ander vertel van 'n Koning wat nie net vryheid beloof nie, maar ook gee. As jy jouself vind in dié kategorie, maar jy sien nie vryheid in alle areas nie of jy sien vryheid, maar jy sien ook deels mislukking, hou moed. Bogenoemde persoon se spesifieke situasies verskil van joune en met van daardie situasies moes daar 'n pad gestap word na vryheid, waar ander situasies bonatuurlik verander was. Daar is steeds ander situasies in die bogenoemde persoon se lewe waar verandering en groei plaasvind en waar 'n pad steeds gestap word na vryheid. Die belangrike ding is, is jy oppad na die norm van die wêreld of die norm van Christus? As jy oorwinning sien en ook mislukking, mag die oorwinning jou moed gee, eerder as wat die mislukking jou teneergedruk laat. Met ons oë op Christus, weet ons Hy is besig om in ons te werk en sal daardie werk voltooi.
Hy is almagtig en goed en nog meer as wat ons ooit sal kan verstaan. Amen.
Comentarios