top of page
Search

Hardloop weg... of bly - deur Jacques Kotze

  • Writer: Herman Blackie
    Herman Blackie
  • Jul 21, 2020
  • 4 min read


Daar is ‘n great boek in die Bybel waarin ons God se absolute liefde sien, te midde van die mens se rebellie.

Die boek van Hosea gaan oor 'n profeet wat na Israel toe gaan en vir hulle God se woord verkondig.

Hosea se lewe word gebruik om die boodskap wat Hy moet bring oor te dra. Hier is wat gebeur:

Hy trou met 'n prostituut, met die wete dat sy heel moontlik ontrou kan wees selfs nadat hulle getrou het, met die hoop dat sy troue liefde haar hart sal draai om getrou te bly aan hom. Nadat hulle getrou het, gaan sy weer en breek egbreek. Sy kan net nie anders as om rond te loop en te hoereer nie. Sy loop na al haar mans toe om egbreuk te pleeg, want sy dink dit is wat haar sal vol maak, dit is waar geluk lê. Dit is wat sy ken, dit is wat sy geleer is, dit gee haar aanvaarding en waarde.


Ek kan net dink hoe dit Hosea se hart moes breek. Hoe breek dit nie ons harte as iemand ons verwerp om êrens anders aanvaarding en geluk te kry nie?


Hosea se vrou gaan toe na al die mans toe, die hartseer ding is, hoe meer sy vrylik haarself weg gee vir hulle, hoe minder soek hulle haar. Hoe meer desperaat sy is om aanvaar te word, hoe minder aanvaar hulle haar. Hoekom? Want hulle is nie lief vir haar nie, hulle was nooit nie. Sodra hulle kry wat hulle wil hê of moeg is vir haar, verwerp hulle haar weereens. Maak nie saak hoe hard sy probeer nie, hulle soek haar nie terug nie.


Sy het gedraai na "broken cisterns" en weggedraai van die ware bron van lewende water.

Dit is wat die wêreld (en die vyand) doen, dit lok ons in met allerhande mooi praatjies en woorde, maar sodra dit genoeg gehad het van ons, verwerp dit ons.


Terug na die storie van die vrou. Later is sy so verwerp dat sy haarself as slaaf verkoop. Gebroke en verneder staan by 'n veiling, reg om verkoop te word as 'n slaaf. In haar toestand en haar vernedering, soek niemand haar nie. Niemand is bereid om die "damaged goods" te vat nie.


Maar...


Dan kom Hosea. Hy kom en hy sê, daai is my vrou, sy behoort aan my. Hy koop haar terug. Maak nie saak hoeveel keer sy my verwerp het nie, maak nie saak waar sy was nie, maak nie saak hoe seer sy my gemaak het nie, maak nie saak hoe verneder sy nou is nie. Sy is my vrou, sy behoort aan my. Maar meer as dit, ek is lief vir haar.


Die vrou wat niemand meer wou hê nie, word terug gevat deur haar man, wat van die begin af lief was vir haar.


Hoekom het sy van die begin af haar liefde van die hand gewys en weggehardloop?

Hoekom doen sy dit? Ons moet eerder vra, hoekom doen ons dit? Wie weet hoekom, die ding is, so onnosel soos wat dit nou klink in retrospeksie, ons almal doen dit of het dit gedoen. As ons nog nie ware liefde gevind het in God nie (en soms al is ons wedergebore, vergeet ons van hierdie liefde) het ons die neiging om weg te hardloop en self te probeer geluk en lewe vind, want ons dink ons kan.

Partykeer weet ons dalk nie waar om te soek nie en dan soek ons by die eerste plek waar ons kom. Partykeer dink ons dat ons beter weet waar om te soek of partykeer wil ons net bloot soek soos wat en waar ons wil.


Ons sien dit regdeur die hele skrif, dit het begin toe die eerste mense hulle eie wil wou volg.

Almal van ons hardloop, die manier hoe ons hardloop en hoe ver ons weg hardloop verskil.

Hier kom die awesome deel, maak nie saak waar jy was of hoeveel keer of hoe vêr jy weggehardloop het nie, God het jou kom terugkoop (ten duurste). Daar is dus nie 'n verskoning of 'n rede hoekom die nie op jou van toepassing is nie. Ons almal het gehardloop van God af, ons almal het Hom verwerp en nie gesoek en liefgehad nie, nes die prostituut. Almal het gehardloop, almal is teruggekoop.

En ook nes die prostituut teruggekoop was, net so het God sy seun Jesus gestuur om met Sy lewe, lyding, vernedering, dood en opstanding ons elkeen terug te koop.


Die keuse staan nou voor jou, jy is teruggekoop, gaan jy nou die Een wat jou teruggebring het liefhê, of nie? Gaan jy Sy liefde aanvaar en toelaat dat Hy jou liefhê en genees en Sy plan met jou lewe vir jou wys, of kies jy om net weer weg te hardloop? Kies jy om te dink dat jy net die regte goed kan probeer doen, sonder Hom? Kies jy om in beheer te wees van jou eie lewe en keuses? Hy is nie soos al die ander “liefdes” nie, Hy sal ons nooit verwerp nie. Mag ons toelaat dat daai besef en liefde ons harte draai na Hom toe.


Hardloop weg of Hê hom lief?


Dit verander als.

 
 
 

Comments


bottom of page