Vriend en Helper (Deel 5)
- Aug 31, 2020
- 7 min read

Daar is nog een ding liewe leser, wat intussen gebeur het in die lewe van die seun, inderdaad ook in jou lewe as jy ‘n kind van Pa is, waaroor ons moet gesels voor ons aangaan met die verhaal en sien wat gebeur nog op die pad huis toe. Kom ons reis gou terug na die verhoor (deel 1) en na die fees waar die beskuldigde deur Pa aangeneem is en ‘n nuwe identiteit gekry het as aangenome en volwaardige kind (deel 2).
Seun, hier is iemand wat ek graag wil hê jy moet ontmoet, sê Pa toe Hy na my toe aangestap kom by die fees. Hier is so baie mense wat ek nou al leer ken het as my nuwe broers en susters in Pa se huisgesin, wie kan dit moontlik wees wat ek nou nog moet ontmoet? Wonder die seun toe Pa aangestap kom. Pa gaan voort: Deur die opoffering van die Advokaat by die verhoor, het ‘n paar dinge gebeur, soos jy reeds weet, waarvan een is dat jy vrygespreek is. Tweedens is jy ook die keuse gegee om deel te word van my huisgesin, wat jy heelhartig gekies het en ook nou getuig het voor jou nuwe broers en susters, asook die dorp se mense. (Daar het nog ander dinge gebeur, soos ‘n verandering van natuur, persoonlikheid en hart, maar meer hieroor later). Aangesien jy volkome deel is van my huisgesin, as my nuwe seun, het jou hart ook verander en nou wil ek jou voorstel aan iemand baie na aan my hart (inteendeel, dit is onmoontlik om ons eenheid en hart te skei van mekaar, net soos die Advokaat, is Hy ‘n deel van my). Ontmoet Vriend.
Toe Hy begin praat was dit asof ek Hom al jare geken het. Toe ek Sy stem hoor, was dit asof ek die stem al vir jare en jare gehoor het. Ek het terug gekyk in my lewe en besef dat ek al baie van tevore Sy stem gehoor het, maar Hom nooit geken het of geweet het aan wie behoort hierdie stem nie. Elke keer as ek hierdie stem gehoor het, was dit asof Hy vir my probeer sê het om in ‘n sekere rigting te gaan, asof Hy my gewaarsku het van ‘n gevaarlike of slegte situasie wat op pad is. Ek het meeste van die kere hierdie stem afgemaak as niks en my eie roete gevolg, wat my toe op die ou einde in die verhoor laat beland het waar ek beskuldig was. In een oomblik is dit asof my hart bewus raak van Sy goedheid, liefde en leiding in my lewe, al het ek dit meestal nie gevolg nie. In daardie oomblik het ek sommer dadelik geweet dat ons goeie vriende gaan wees, dit is immers Sy Naam.
Johannes 14:16-17a Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie.
Vriend begin toe praat: Dit is lekker dat jy my uiteindelik kan ontmoet, dat ons nou kan vriende wees. Ek ken jou al lank. Al het jy my nou eers ontmoet, ek het jou lankal geken. Van nou af sal ek jou nooit ooit alleen los nie, Ek sal jou raad en leiding gee. Nou dat jy my ken en ontmoet het, sal jy meer my stem duideliker kan hoor en my leiding aanvaar in jou lewe. Nie net dit nie, ek sal namens Pa altyd by jou wees. Wanneer ek praat, sal Hy met jou praat. Wanneer Hy met jou praat, sal ek met jou praat. Ek sal saam met jou stap op elke pad wat jy aanpak. Wanneer dinge moeilik gaan, sal ek jou herinner aan die beloftes van Pa en die opoffering van die Advokaat. Ek sal jou kom leer hoe dit lyk om in Pa se huisgesin op te tree en te groei in die persoon in wie Hy jou gemaak het. Ek sal jou help om Sy karakter, hart en maniere te vorm in jou lewe. Ek sal jou help om verby die maniere van die dorp se mense te kyk en dit af te leer en te fokus op die maniere van Pa. Aangesien jy vir baie lank in die dorp gebly het en die maniere van die dorp se mense aangeleer het en gevestig het in jou lewe, gaan ons hierdie pad saam moet stap en jy gaan my moet volg, soos ek jou gedagtes verander. Ek gaan ou patrone in jou lewe kom verander en in lyn bring met die totale vryheid wat jy nou reeds het, dat jy nie net weet jy is vry en nuut gemaak en verander nie, maar dit ook prakties sien en beleef.
Johannes 14:17b Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Johannes 14:26 en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Johannes 15:4-5 Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
Galasiërs 5:22-25 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
Galasiërs 6:8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.
Ek sal jou ook wys wanneer daar geleenthede is om sekere dinge te doen wat ander kan help en wanneer jy met mense gesels oor Pa en die Advokaat, sal ek die regte woorde vir jou gee en saam met jou getuig. Ek sal saam met jou werk en jou sterk maak, om meer mense te laat besef hulle is, net soos jy was, skuldig en hulle kort verskoning van hulle misdade en dat hulle deur dieselfde proses as jy, deur dieselfde opoffering van die Advokaat, ook deel kan word van Pa se kinders.
Johannes 15:26-27 “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”
Johannes 16:8 en wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
Handeling 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Handeling 6:10 Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.
My ander naam is ook Helper, vertel Vriend toe. Want net soos die Advokaat uit liefde uit jou gehelp het, help ek jou nou ook. Ek gaan ook baie ander help deur jou, en jou help deur ander broers en susters. (Dit was inderdaad Vriend wat keer op keer met my gepraat het en my gelei het weg van die gevaarlike park, waarvan ons vroeër gepraat het. Toe ek nie geluister het nie, was dit steeds Hy wat toe gesorg het dat my een ouer broer op presies die regte tyd, op presies die regte plek is om my uit die park uit te ruk. Hy is Vriend en Helper).
===
Liewe leser, die Vriend en Helper waarvan hier gepraat word is die Heilige Gees. Hy is nes Vader en Jesus, ‘n persoon/entiteit van die Drie-eenheid. Hy is die een wat met ons praat en ons trek na Vader en Jesus toe, lank voor ons Hom ken of enige iets met Hom te doen wil hê. As jy terug kyk in jou lewe, sal jy ontdek dat daar etlike kere was waar Hy met jou gepraat het (deur ‘n stil stem in jou binneste, deur ‘n gevoel, deur ‘n droom, heel moontlik deur ‘n ander gelowige, heel moontlik ook wanneer jy Woord lees en iets staan vir jou uit of jy besef wat iets in die Skrif beteken).
Nou dat ons as kinders van Vader aangeneem is deur geloof in Jesus Christus, kom Heilige Gees en gesels nie net met ons van buite af sonder dat ons Hom ken nie, maar Hy kom woon in ons en deur Hom het ons verhouding met God. Hy woon in ons en sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Ons is dalk nie altyd bewus van Hom nie, maar ons raak meer bewus van Sy teenwoordigheid soos wat ons luister na Sy stem en Woord.
Hy lei ons. Wanneer ons dikwels op ‘n pad is in ons lewens en nie weet na watse kant om te gaan nie, lei Hy ons, deur verskillende maniere, soos hier bo genoem. Hy is die een wat in ons kom vrug bring en vrug dra. Wanneer ons kies om na Hom te luister en nie na ons eie begeertes en wil nie, begin Hy verandering bring in ons lewens en vrug dra deur ons. Ons kan nie op ons eie die vrug van die Gees dra of vervaardig nie, dit is immers Sy vrug en Sy natuur.
Net so met die Gawes van die Gees. Hy is die een wat deur ons kom werk, hetsy deur die Woord met ander te deel, deur ander te bemoedig, deur iets met iemand te deel wat hulle in daai oomblik moes hoor, deur genesing te bring wanneer ons vir iemand bid, ens.
Hy is in ons en By ons, Hy is ons beste vriend en ons helper. Sonder Hom kan ons nie deur die lewe gaan nie.
As ons kinders is van God, het Hy toe ons wedergebore is (in Hom geglo het en bekeer het van ons ou leefwyse en Hom as koning van ons lewens begin volg het) vir ons die Heilige Gees gegee as vriend en helper. Daar is nog meer om te ontdek van Heilige Gees en hoe Hy prakties in en deur ons lewens kom werk en ‘n verskil maak. Mag ons aanhou om te luister as Hy met ons praat en nie ons eie wil volg en Sy leiding weg-redeneer nie. Hy praat met ons, mag ons luister.
Daar is nog baie gebeurtenisse wat ons gaan sien in die boek, waar ‘Vriend’ betrokke is en ons leer en lei.



Comments