top of page
Search

Getuienis en Gehoorsaamheid (Deel 2)

  • Writer: Jacques Kotze
    Jacques Kotze
  • Jul 31, 2020
  • 4 min read


Liewe Leser.


Ek hoop en glo dat die verhaal oor die verhoor, die Regter, die Advokaat en jou as die beskuldigde insiggewend was.


Ons het in die eerste hoofstuk gesien dat die beskuldigde nie net verskoon was van sy straf nie, maar ook aangeneem is as die seun van die regter. Hy is nie net verskoon deur barmhartigheid nie (om nie iets te ontvang wat hy eintlik verdien nie), maar daar is ook aan hom ‘n geskenk gegee deur genade (om iets te ontvang wat jy nie verdien nie). Daar is ‘n paar geskenke aan die beskuldigde gegee, waarna ons sal verwys deur die res van die hoofstukke. Een van die geskenke wat genoem is, is dat hy die regter se seun geword het. Die regter het Hom aangeneem.


Van hier af vorentoe gaan ons kyk na die verhaal van die eens beskuldigde, nou onskuldige, seun van die regter. Dit is ook wat die beskuldigde van hier af vorentoe genoem gaan word: kind van die Regter.


Die verhaal vorentoe is joune, as jy die aangenome kind is van die regter. Hoe hartseer sal dit wees om verder te lees en jouself te probeer inleef in die verhaal van die kind van die regter, as jy nie die kind van die regter is nie - as jy die hulp en aanbod van die advokaat teenstaan en verwerp. As jy kies om jou eie saak te behartig.


Jy sal weet, liewe leser, waar in die vorige hoofstuk, jy jouself bevind het. Kom ons lees verder, wat gebeur in die verhaal van die seun van die regter.


===


Ek onthou nog die verhoor asof dit gister was, vertel die seun vir een van sy nuwe broers, terwyl hulle huis toe stap een middag. Ek onthou hoe my moed gebreek het onder die las van my misdade, toe my gewete getuig het dat my goeie dade nie genoeg sal wees nie, toe die regter... Uhmm... Ek bedoel, Pa... die wet gelees het en ons almal in die hof ingelig het dat die wet stipuleer dat daar op ‘n wonderbaarlike manier verskoning gegee kan word aan ‘n misdadiger. Toe die advokaat sonder aarseling, sonder verwyt opgestaan het en my straf gevat het op homself. Die een toneel wat ek nooit sal vergeet nie, was toe die advokaat my skuldbewys gevat het, hom opgeskeur het en al die bewyse van die aanklaer by hom gevat het en dit vernietig het. Hy het werklik die aanklaer sonder enige grond vir aanklagte gelaat. Soms is dit asof ek die aanklagtes teen my steeds onthou en nie regtig glo dat dit totaal vernietig is nie, maar dan herroep ek weer die einste toneel in die verhoor en besef weer dat dit vir goed weg is.


===


Psalm 103:12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.


Romeine 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.


Hebreërs 8:12 Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.


===


Die ding wat my steeds bybly van daardie dag is die liefde wat ek gesien het in die oë van die regt... Ag ek bedoel pa. Dit vat ‘n ruk om te besef en gewoond te raak aan die feit dat die een wat verantwoordelik is vir my oordeel, die einste een is wat verantwoordelik is vir my verskoning en nou my aangeneem het as sy seun. Ek leer nog hoe om in daardie identiteit te loop en hoe om hom te sien as ‘n liefdevolle Vader en ‘n regverdige Regter. Terug by die punt. Die kyk van liefde en genade in Pa se oë en dieselfde kyk van liefde in die advokaat (Ek moet hom seker van nou af beskryf as broer of verlosser, of beide?) se oë. Dit is asof hulle vooraf geweet het wat gaan gebeur en reg gestaan het om in te gryp in presies die regte oomblik.

Die seun praat aan, dit lyk asof hy nie op gepraat raak aan sy verhaal nie en elke keer weer opnuut ontdek wat gebeur het daardie dag. Ek onthou die fees wat daarna gevolg het. By die fees was daar ‘n geleentheid vir my om voor ander te getuig van die proses wat in my hart plaasgevind het. Dit was ‘n profetiese aksie wat deur fisiese simbole en handeling gewys het wat in my hart gebeur het en hoe ek ‘n nuwe identiteit gekry het deur die afwassing van my misdade.


Daardie aksie het vir myself, die mense teenwoordig (wat ook reeds deel geword het van die regter se familie), asook die ander mense van die dorp gewys wat gebeur het. Ek het gekies om te assosieer met die advokaat/broer/verlosser wat in my plek die straf gevat het vir my misdade. Die mense van die dorp het dit nie lekker verstaan nie, want hulle kon nie sien hoe so ‘n uitwaartse, doodnormale aksie, iets meer beteken nie. Vir die wat verby die fisiese kyk, kon sien wat gebeur het op ‘n dieper vlak. Hulle kon sien hoe die profetiese aksie op ‘n dieper vlak waarlik ‘n begrafnis was van die beskuldigde en die opstanding van ‘n seun.


Die slaaf is begrawe, die seun is opgewek. Die ou is weg, die nuwe het gekom.


===


Lukas 15:10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.


Romeine 6:4-5 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.


1 Petrus 3:21 Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.


===

 
 
 

Comentários


bottom of page