Deursigtigheid en Inspraak (Deel 3)
- Jacques Kotze
- Aug 8, 2020
- 9 min read

Die seun praat nog al die pad met sy nuwe broer, want sien, die pad huis toe is lank en goeie gesprekke en getuienisse maak die pad beter en die afwagting om tuis te wees meer.
Daardie gebeurtenis was deels soos die seremonie en fees wanneer twee mense in die huwelik tree. Daar was ander broers en susters van Pa wat saam feesgevier het en die geleentheid gekry het om te hoor wat in my hart gebeur het tydens die verhoor. Hulle kon sien hoe ek verklaar met my woorde en deur die profetiese aksie, dat ek volwaardig ‘n kind in Pa se huis geword het en kies om dit te deel in die publiek. Hulle kon ook van daar af vorentoe my help deur moeilike tye en raad gee, al dink ek nie altyd ek het raad nodig nie. Partykeer is dit juis in tye wat ek dit die minste nodig ag, wat ek dit die meeste nodig het.
===
Spreuke 16:18 Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.
Spreuke 18:1 Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.
===
Ek onthou een dag wou ek na ‘n park toe gaan. Ek het gehoor dat Pa sekere parke en velde op die pad geplaas het vir ons om te geniet. Daardie parke en velde is pragtig. Dink gou aan die mooiste natuurtoneel wat jy al ooit gesien het liewe leser. Heuwels geklee met ruig groen gras, bome wat skadu gee om onder te rus, strome wat koel, verfrissende water gee (Waters waar daar Rus is). Ek het my toe voorgeneem om na een van daardie parke te gaan. Ek het na Pa toe gegaan en by sy oop deur ingestap. Want, jy sien liewe leser, Pa se deur is altyd oop, vir enige iemand wat na Hom soek. Selfs al is hy die Regter, Skrywer van die wet en vele meer, is hy die perfekte Vader wat deur dit alles nooit te besig is en ‘n kind wegwys of later eers laat terugkeer nie.
===
Jakobus 1:5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Hebreërs 4:16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
===
Pa het my instruksies gegee hoe om by die mooiste parke uit te kom. Hy het my ook goed ingelig en ferm gewaarsku waar om nie af te draai op pad nie. Hy het ook ‘n paar broers en susters gaan roep en aangemoedig om saam met my te stap. Hy verduidelik toe: Dit is die veiligste om die pad na al die parke en velde wat ek aan jou gee as geskenke, te verken saam met broers en susters, in ‘n groep. As een van julle val, kan die ander hom ophelp. As een van julle ‘n las het, kan die ander saamdra, as een van julle nie weet waar om te gaan nie, sal die ander kan rigting bring. Hy glimlag toe Hy dink aan al die parke wat Hy gebou het vir ons om te geniet: Daar is niks fout met die parke wat ek gegee het nie, soms is daar gevaar wat skuil in die pad daarnatoe of selfs by die parke, maar die parke self is goed.
===
Jakobus 3:17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.
Mattheus 7:9-11 Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
===
Pa verduidelik verder, met opregte omgee en erns in sy oë: Partykeer is dit ook moontlik dat een van die aanklaer se werkers ‘n gat in die heining van die park gaan maak het, om sodoende te probeer toegang kry tot die park en op slinkse maniere onkruid te saai wat die park sal verwoes. Of wat nog erger is, partykeer bring die aanklaer en sy vriende iets in die park in, wat dodelik, verwoestend en sodoende verbode is vir my kinders. Nie net is dit al die bogenoemde nie, maar die ergste van als is dat dit ook dikwels vermom is om te lyk soos iets wat ek gee, want dit lyk goed van ver af. Dit het die skyn van wysheid, goedheid, gemak en vreugde. Van voor af lyk dit eg, maar van die kant af, is dit duidelik dat dit vals en verwoestend is. Pa lyk hartseer: Dit is wat gebeur het met die eerste park wat ek gemaak het... Dit is wat steeds vandag gebeur sonder dat dit opgemerk word.
===
Genesis 3:6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
Genesis 3:13 Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
===
Oppad na die park toe, het ek en my broers en susters menigte struikelblokke teëgekom. Nes daar ‘n vurk in die pad is en ek nie geweet het waarnatoe om te gaan nie, het een van my broers my herinner aan wat Pa my vertel het. Die beste raad op pad na die park toe was die kere wanneer ‘n broer of ‘n suster my nie net vertel het watse pas om te vat nie, maar my terug gevat het na Pa se instruksies en leiding. Daar was ook ‘n paar kere wat ons by ‘n vurk in die pad was en ek die verkeerde afdraai wou vat, dan het iemand my van agter af aan die kraag gegryp en teruggedraai na die regte afdraai toe. Dit was moeilik in die begin om nie trots te wees en hulle greep los te skud nie. Met tyd het ek geleer om die regte paaie te identifiseer en te kies, asook om die “kraag-gryp” op die regte tyd te verwelkom.
===
Spreuke 12:15 Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad.
Hebreërs 12:1 Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
===
Ek onthou nog toe ons by een van die parke instap, het een ouer broer dadelik ‘n gat in die heining raakgesien en ons het saamgespan om die gat toe te maak en die verwoestende items en onkruid uit die park te verwyder. Dit was by elke park asof iemand anders van ons groep die struikelblokke wat daar was, raakgesien het en toe ‘n strategie gebied het om daardie struikelblok uit die weg te ruim. Ek onthou een dag het een van my susters (met die naam “Sofia”, wat die betekenis dra: Wysheid”), ‘n weggesteekte gevaar in een van die parke raakgesien waar daar ‘n gat in die heining was. Toe ek haar vra hoe sy dit raakgesien het, het sy soos volg geantwoord: Ek was al in hierdie park, ek weet wat daar moet wees en nie moet wees nie. Pa het my kom wysheid en instruksies gee rakende die spesifieke park. Elkeen van ons in die groep het al gereis na sekere van die parke toe, party na meer as ander. Party van ons het al seergekry in van hierdie parke deur die verwoestende items wat die aanklaer kom plant het, ander nog nie. Die een ding wat ons almal in gemeen het is dat ons gereeld by Pa gaan sit en sy leiding vra oor die parke en leer om dit te onderhou en te geniet soos wat Hy dit bedoel het. Die een leer by die ander. Elkeen het iets om te bring.
Dit was ‘n wonderlike tyd liewe leser, ek het soveel geleer by my nuwe familie deur saam met hulle te gaan op die avonture en die parke te geniet wat Pa ons gegee het om saam te verken. Als het goed gegaan tot ek op ‘n dag my eie begeerte gesoek het...
Ek onthou daar was een park wat my broers en susters nog nie saam met my verken het nie. As ek met hulle daaroor gepraat het, het hulle my geantwoord dat ek moet wag tot die regte tyd om daar uit te kom. Daar is op die pad na daai park toe, baie afdraaie wat kan lei na gevaarlike afgronde toe.
Ek besluit toe een middag om in die geheim na die spesifieke park te gaan. Oppad daarheen het ek doelbewus paaie gevat wat ek geweet het my broers en susters gewoonlik nie vat nie, om hulle te ontwyk. Oppad daarnatoe het die een Vriend wat altyd by my is (ons gaan Hom in ‘n volgende hoofstuk ontmoet), steeds my gewaarsku om terug te draai, al was my ander broers en susters nie by my nie. Elke keer as Hy begin praat het en my gewaarsku het, het ek begin redeneer oor hoekom ek nou na die park toe moet gaan. Ek het myself oortuig van al die wonderlike vreugdes wat my sou afwag in die tuin. Ek het soveel begin redeneer dat my hart en my gedagtes die oorhand gekry het. My redenasies het nie die Vriend se waarskuwings stil gemaak nie, maar onderdruk, totdat dit nie meer gehoor kon word nie.
===
Jakobus 1:13-16 Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Moenie julleself mislei nie, my liewe broers.
===
Ek het aangestap, hoe nader ek gekom het aan die ingang van die park, hoe meer het ek begin blind word vir die gate in die heining waarby ek verbygeloop het. Dit was asof daar ‘n blinddoek oor my oë geplaas was en dikker geword het hoe nader ek aan die ingang gekom het. In die park het die blinddoek my oë totaal verblind, soveel so, dat ek tot vandag toe nie weet of ek op my eie uit daardie park sou kon kom nie.
Ewe skielik het ek gevoel hoe iets my bene vasgryp en al hoe stywer begin vashou. Met my oë toe, kon ek niks doen nie. Vir die eerste keer het ek weer so magteloos gevoel soos tydens die verhoor...
Dit is toe, dat ek voetstappe hoor van die ingang van die park af. Wonderlike voetstappe van iemand wat aangehardloop kom. Ek het die ferm hand van een van my broers gevoel wat my van agter af aan die kraag beetkry en my uit die greep van die... wel wat ook al dit was... uit ruk.
===
Judas 1:22-23 Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.
Galasiërs 6:1-2 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.
===
Terwyl hy my uit die park uit help, soos ‘n gewonde soldaat, kyk ek terug en die blinddoek val van my oë af. Ek sien verby die skyn wat Pa my van vertel het en ek sien die verwoesting raak van die onkruid en die verbode items in die tuin. Die leuens van die aanklaer begin faal.
Jy sien, liewe leser, die parke is die areas van seën en geskenke wat God vir ons gee om te gebruik en te geniet as sy kinders. Hy het elke goeie geskenk geskep en gegee vir ons om te geniet en reg te gebruik. Die probleem kom in wanneer dit verkeerd gebruik word. Om ‘n voorbeeld te gee, dit is soos om vir ‘n kind ‘n kar te gee. Daar is niks fout met ‘n kar nie en as dit reg gebruik word kan dit vreugde en praktiese hulp bied vir die bestuurder. As ‘n kind ‘n kar probeer bestuur, is daar steeds niks fout met die kar nie, maar dit hou groot gevaar in vir die kind en vir ander mense op die pad, oor dit nie reg gebruik word nie. Dit is immers nie ontwerp om deur ‘n kind gebruik te word nie.
Net om dit nader te bring, liewe leser. Die parke en die velde is dinge soos geld, besittings, ontspanning, kos, wyn, vriendskap verhoudings, seksualiteit ens.
Net jy sal weet liewe leser, of jy oop is vir inspraak (van broers en susters in Christus, asook van Vader self deur sy Gees) en of jy op pad is om blindelings in ‘n lokval van die aanklaer te trap.
Die goeie nuus is, dat die verhaal nie daar stop nie. As jy deur so ervaring is, lees gerus voort (in die volgende hoofstuk, volgende keer) om te sien hoe Pa genesing bring. As jy deur die verhoor is en die Regter het jou Pa geword, dan het jy sy Kind geword. Wanneer ‘n kind foute maak en seer kry, kom tel Pa hom op en genees hom.
Comments