Genesing en Herstel (Deel 4)
- Jacques Kotze
- Aug 15, 2020
- 10 min read

Daar is nog tyd om te vertel van die genesing wat toe gevolg het, sê die seun vir sy broer, soos hulle al hoe nader kom aan die huis. In Pa se huisgesin is dit die ding wat ons die meeste nodig het en die meeste moet deel met ons broers en susters, maar soms deel ons dit te min. Ons vergeet soms self van die genesing en herstel wat reeds plaasgevind het wanneer ons kyk na die huidige probleme en seer wat daar steeds is. Net oor daar steeds seer is wat nog moet genees en nuwe seer is, wat elke keer hanteer moet word, beteken nie dat daar nog nooit genesing was nie. Kom ek vertel jou van die genesing wat Pa gebring het nadat ek seergekry het in die een park waarvan ek van tevore gepraat het.
Die seun raak sommer opnuut opgewonde en dankbaar as hy terugdink.
My een broer, die een wat my uit die park geruk het, het my terug gedra huis toe. Terug by die huis, het Vader ons terug verwelkom, hartseer van al die verwoesting wat ek moes deurmaak, maar gelukkig en bly dat ek weer terug kon keer in een stuk en nie verstrik geraak het in dieper onkruid of lokvalle van die aanklaer se werkers nie. Hy was baie dankbaar vir my ouer broer wat my uit die park geruk het en my terug gedra het.
===
Jakobus 5:19-20 My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat 'n menigte sondes vergewe word.
===
Ek was skaam om na Pa toe te gaan, ek wou hom nie in die oë kyk nie, ek was bang dat ek Hom teleurgestel het. Amper nog erger as dit, ek was bang oor wat my broers en susters sou sê, ek was bang ek het hulle teleurgestel.
Op pad na Pa toe, het ek die verskonings in my kop reggekry. Vir ‘n oomblik het dit gevoel asof ek weer op pad is na ‘n verhoor toe en my verdediging teen die aanklagtes van die aanklaer moet gereed kry. Ek het oor en oor probeer dink wat ek sal sê. Miskien moet ek vir Hom sê dat ek nie meer waardig is om sy kind te wees nie, maar ek sal as sy slaaf vir Hom werk by die huis? Ek weet dat Hy Hom oor almal ontferm wat by Hom is, miskien moet ek dit doen. Ek was naderhand moeg gedink aan wat ek moet sê en wat nie.
===
Lukas 15:17-20 “Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
===
Ek was nog op pad na Pa toe, toe ek besef Pa is van voor af op pad na my toe. Ek het na Sy gesig gekyk en gesien dat Sy gesig vol ontferming, liefde en barmhartigheid is. Hy het gelukkig gelyk, glad nie kwaad of teleurgesteld nie. Ek het eers omgekyk om te sien of Hy nie na een van my ouer broers kyk agter my nie, een van my broers of susters wat al meer wys is en beter werk doen in die huisgesin. Ek het omgekyk en niemand gesien nie. Hy kyk na my! Besef die Seun. Liewe leser, Hy kyk na JOU!
Pa het my omhels. Ek het gehuil. Pa het my getroos. Ek het om verskoning gevra. Pa het my vergewe. Ek het nie net om verskoning gevra soos van tevore nie (voor die verhoor sou ek om verskoning vra net om myself uit die moeilikheid te kry) , maar ek het om verskoning gevra met die wete dat ek werklik jammer is en nie weer opsetlik Pa se raad gaan minag nie. Ek het begin om verskoning vra, maar ek is gestop voor ek nog by my verskonings kon uitkom. Pa het gesê: Ek soek nie jou verskonings nie, ek soek jou hart, my kind. Ek kan sien wanneer iemand om verskoning vra en hulle harte is nie by my nie. Ek kan ook sien wanneer iemand se hart by my is, wanneer sy hart opreg berou toon en teruggekeer het na my toe. Dan is die terugkeer van ‘n hart baie meer werd as duisende woorde van verskoning.
===
Jesaja 29:13 Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.
Hosea 6:6 Want Ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.
1 Johannes 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
===
Pa praat verder: Jy hoef nie jouself te verdedig nie, waar is die brief met jou aanklagtes op? Ek het rond gevoel in my sakke om die brief met my aanklagtes op te vind, maar niks gevind nie. Pa vra toe: Het jy so vinnig vergeet? Die brief met jou aanklagtes was opgeskeur tydens die verhoor. Die aanklaer kan nie meer aanklagtes bring teenoor jou nie. Daardie dag toe my Seun (jou broer/advokaat/regter) vir jou gesterf het, het Hy jou straf gevat vir die misdade wat jy reeds gepleeg het en ook dit wat op pad was. Dus, hierdie straf van jou, wat jy nou sou moes dra, is reeds gedra. Daar is wel ‘n verskil tussen ‘n doelbewuste keuse van volharding in sonde en om te struikel en terug te kom (hieroor sal ons later gesels).
===
Romeine 8:31-33 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
===
Hy het my terug verwelkom en die stof van my voete afgewas, want my voete was vuil. Ek het hom gevra hoekom hy nie my hele liggaam was soos toe ek die eerste keer in sy huis ingekom het en deur die profetiese aksie gegaan het waar my hele liggaam gewas is nie. Hy het my geantwoord: Net jou voete het vuil geword in die park, my kind, en dit was ek nou. Jy is steeds verder skoon, jy is reeds gewas.
===
Johannes 13:10-11 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie. Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.
===
Na daardie gesprek met Pa, toe Hy my terug verwelkom het, het daar ‘n paar opeenvolgende gesprekke plaasgevind. Hierdie proses van genesing en herstel het ‘n paar gesprekke behels saam met Pa. Die ding is, ek het al baie van tevore gehoor dat tyd genesing bring, maar deur die loop van hierdie gesprekke met Pa het ek besef dat tyd nie genesing bring nie, Pa doen. Die wonde en die straf wat die advokaat gedra het, bring genesing. Die liefde van Pa doen. Die raad en die berading van die Vriend doen. Dít is wat genesing bring, nie tyd nie, al vat die bogenoemde dinge soms tyd. Dit is net soos enige wond wat mens opdoen in die veld of wanneer iets jou sny, as die wond hanteer word, sal dit met die loop van tyd genees en herstel. As dit nie hanteer word nie, sal dit met die loop van tyd sweer en moontlik ‘n letsel los. Tyd is nie genesing nie, maar dit is ‘n faktor in die proses.
===
Jesaja 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
===
Tydens een van hierdie gesprekke het Pa saam met my uit sy Boek gelees. Terwyl Hy gelees het kon ek voel hoe ek, Pa, Vriend en die Advokaat (broer/vriend/redder) saam kuier. Die Boek het hulle al drie se karakter gewys en dit was asof hulle al drie gelyk praat deur die woorde van die Boek.
Pa het vir my ‘n storie gelees van ‘n man wie se vrou ontrou was en keer op keer weggehardloop het van hom af. Deur dit alles het hy aangehou om haar terug te roep en terug te wen. Die een aspek in daardie storie het vir my verskriklik hoop gegee en ek het vir Pa gevra om dit vir my te verduidelik en te wys.
Pa het my toe gevat na die een venster toe wat uitkyk oor die park waarin ek seergekry het. Ek wou eers nie kyk nie, ek kon net die aaklige beeld onthou wat ek gesien het toe ek uit die park gedra is, seer en verwoesting. Pa het toe afgebuk na waar ek afkyk. Hy sê toe die volgende: Daardie park wat verwoes is, sal weer herstel word en gesond wees vir jou om sonder vrees (op die regte tyd) na die park te gaan. Soos wat Ek dit bedoel het, nie soos wat jy gedink het nie my kind. Dit sal ook ‘n area wees waar Ek hoop sal bring dat jy hoop kan beleef vir die pad vorentoe en ook vir ander sal kan hoop gee en sal kan getuig van genesing en herstel.
===
Hosea 2:13-14 Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ’n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.
===
Met daai woorde kyk ek toe op, uit by die venster, reguit na die park. Ek sien hoe die gate in die park opgevul word, ek sien hoe die onkruid begin verwelk. Ek sien hoe die gate in die heining toegemaak word. Ek sien hoe die storie van my seerste seer in die park waarvoor ek vrees, verander word in ‘n storie van my hoopvolste hoop. Ek sien hoe die storie van my (of moontlik ander se) selfsug, foute, slegte oordeel, verdraaide begeertes en misleiding verander word in die storie van Pa se genesing en herstel. Nie net herstel vir my nie, maar herstel dat ek met ander kan deel en hulle help genees en herstel.
Ek onthou ook ‘n ander keer toe ek en Pa gepraat het, wat deel was van die proses van genesing. Hy het my gebring na ‘n vertrek in die huis waar ek nog nie van tevore was nie. Dit is ‘n groot vertrek. Toe ons by die deur ingestap het, moes ek my kop lig om te sien waar die mure die dak ontmoet. Dit het amper gelyk soos ‘n groot katedraal. Pa vestig toe my oë op die een muur. Ek was stomgeslaan. Oor die hele muur is ‘n prent geverf. Dit is meesterlik gedoen, verskillende kleure, verskillende tonele, verskillende teksture, verskillende kunstige effekte, alles saam vorm een groot prent. Een groot storie. Een groot meesterstuk. Een groot fassinerende prent. Dit was asof hierdie meesterstuk, die beeld en karakter van die skilder vasgevang het en gewys het vir enige iemand wat daarna gekyk het. Ek was stomgeslaan. Ek was betower deur die prent en die prag daarvan.
Pa begin my toe verduidelik wat (of eerder wie) hierdie meesterstuk is, hierdie meesterstuk is my kinders, geskep in my beeld, geskep om my karakter en grootheid vir die wêreld te wys. Jy, my kind is ‘n toneel in hierdie beeld. Jy is geskep en aangeneem as my kind om vir die wêreld my glorie te gaan wys, net soos hierdie meesterstuk dit wys vir enige iemand wat daarna kyk. Jy, liewe leser, is ‘n deel van hierdie meesterstuk as jy ‘n kind is van die Vader.
===
Efesiërs 1:4-5 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
Efesiërs 2:10 Want ons is sy maaksel (ander vertalings praat van meesterstuk), geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
===
Jy sien, liewe leser. As jy wedergebore is en jy is ‘n kind van God die Vader, beteken dit nie dat jy nooit sal seerkry deur ander mense se selfsug of jou eie nie. Baie keer word hierdie seer beleef in areas waar daar keuses betrokke is van ons kant af of van ander se kant af.
Wanneer ons seerkry of selfs wegval van Vader af, kan ons weet dat Hy alreeds besig is om ons terug te roep na Homself toe, besig om met ons harte te praat en besig om ons area van seer of skande te verander in ‘n area van hoop – ‘n getuienis vir Sy glorie en vir ander se bemoediging en welstand.
Wat ons ook nodig het om te weet wanneer ons twyfel, hetsy deur seerkry of deur teleurstelling of as ons sonde gekies het bo Hom, is dat Hy ons gekies het en ons deel gemaak het van Sy meesterstuk.
Soos aan die einde van die vorige hoofstuk genoem: As jy deur die verhoor is en die Regter het jou Pa geword, dan het jy sy Kind geword. Wanneer ‘n kind foute maak en seer kry, kom tel Pa hom op en genees hom.
Mag jy tyd vat om by Pa te gaan sit, jou hart voor Hom oop te maak, met die wete dat Hy nie jou gaan wegwys as jy na Hom toe kom nie, en mag jy Sy genesing ervaar. Mag jy sien hoe Hy hoop bring waar daar eens seer was en mag Hy jou bewus maak van Sy goedheid en jou identiteit as Sy kind, deel van Sy meesterstuk.
Hy het ons lief genoeg om ons te kom haal waar ons is en ook om ons nie te los waar ons is nie. Mag ons Hom volg, in die paaie wat Hy ons in lei (meer hieroor volgende keer).
Comentarios