top of page
Search

Ongehoorde verhoor (Deel 1)

  • Writer: Jacques Kotze
    Jacques Kotze
  • Jul 23, 2020
  • 8 min read

Updated: Jul 31, 2020



Liewe leser. Reis vir ‘n paar minute saam met my in jou gedagtes na die volgende toneel.

Ons is by die hooggeregshof. Daar is 'n verhoor aan die gang, maar nie net enige verhoor nie. Dit is een van daai hofsake wat die voorblad van die koerante haal vir maande op 'n slag. Dan kom daar nuwe bewyse na vore, dan is daar 'n verwikkeling in die storie. Dan dié, dan daai. Spekulasies oor of die beskuldigde werklik skuldig is, of hy onskuldig gaan pleit en wat die straf sal wees as hy werklik skuldig is van al die aanklagtes teen hom. Dit is een van daai sake wat jare nou al aanhou. Die hartseer ding is, dit lyk nie of daar ophou is aan bewyse wat inkom teen die beskuldigde nie.


Elke keer nuwe bewyse, nuwe spekulasie en nuwe skinderstories.


Die aanklaer gaan te werke met meesterlike vernuf. Hy bring elke keer wat die hofsitting gehou word nuwe aanklagtes na vore. Dit is asof hy 'n spioen of 'n speurder het wat van jongs af die beskuldigde agtervolg het en elke liewe fout, keuse, seer, skande en misdaad neergepen het en stuk-stuk dit vir die aanklaer gee om voor te lees.


Nes die beskuldigde nuwe moed bymekaarskraap, kom die aanklaer weer en bring nog aanklagtes. Nog skuld, nog skandes. Al wat die beskuldigde dan kan doen is om met sy kop in sy hande te sit en verskonings uit te dink. Elke keer raak sy verskonings minder en sy moedeloosheid meer.


In die begin van die verhoor was die beskuldigde nog vol brawade. Hy het met tye aangekom sonder sy advokaat, wat hom lank voor die tyd reeds gewaarsku het dat hy nooit sonder hom moet gaan nie. Hy het self spot gedryf met die hof en die wette wat hy oortree het, maar nie meer nie. Hy begin besef dat die aanklagtes meer word en dat hy nie meer kan ontken dat hy skuldig is nie. Desperaat wonder hy watse laaste uitweg oor is vir hom.


Een nag, terwyl die verhoor einde toe staan, lê die beskuldigde in die bed en rol rond van bekommernis, skuldgevoelens en ‘n laaste probeerslag om ‘n uitweg te vind. Ewe skielik spring hy op, opgewonde. Ek het dit, ek het ‘n idee wat my sal verskoon in die hof. Ek is reeds skuldig bevind aan meeste van die aanklagtes teen my en daar is nie hoop vir my in vals bewyse nie, so ek moet iets anders probeer. Iets wat nie my skuld sal ontken nie, maar dit sal verlig of selfs sal verskoon. Ek gaan as ‘n laaste uitweg vir die regter al die goeie goed wys en vertel wat ek gedoen het die afgelope paar jaar. Vandat die verhoor begin het, het ek baie gegroei as persoon. Ek het ‘n beter mens geword, ek pleeg minder misdaad as wat ek altyd gedoen het – ten minste minder as al my misdadiger vriende. Ek doen tog ook goeie goed tussen in.


Nee wat, dink die beskuldigde, verligting of verskoning sal ek kry op grond van my goeie dade en my vordering. Dit is ook toe presies wat die beskuldigde doen. Hy vertel van al sy goeie dade en vordering die afgelope paar jaar.


Dan sê die regter in 'n ferm stem: Die wet is daar om kriminele te oordeel en misdade te straf, nie om goeie gedrag te beloon nie.


Hy raak bewoë en sy oë is vol ontferming. Die wet is gebreek, die straf moet volg. Moet ons as hof dan onregverdig wees en vergunning maak vir die een en nie vir die ander nie? Almal wil regverdigheid hê, veral as dit hulle of hulle geliefdes raak. Almal stem saam oor dit, totdat die regverdigheid teenoor jou as persoon moet uitgeoefen word, dan soek almal vergunning.

===


Mattheus 7:21-23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!


Romeine 3:20 Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.


Efesiërs 2:9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.


===


Die beskuldigde se moed sak tot in sy skoene en hy val op die grond neer. Nou verstaan hy. Hy is skuldig, van elke aanklagte wat teen hom gebring is, dit maak nie saak hoeveel keer hy probeer om die regte ding te doen nie, die misdaad is gepleeg. Dit maak nie saak hoeveel keer hy om verskoning gevra het nie, hy het gedink solank hy om verskoning vra kan hy maar aangaan en verder misdaad pleeg. Dit maak ook nie saak wat hy nou doen of sê nie. Die misdade is gepleeg. Die skade is daar. Die bewyse teen hom.


Huilend begin hy besef dat sy goeie dade nie betaling vir sy straf kan wees nie. Hy wens dat hy kan vry kom van die vonnis, die hele verhoor agter sy rug kry, na 'n nuwe land trek en oor begin. As hy maar net 'n skoon bladsy kon hê. As sy lys van aanklagtes opgeskeur kon word.

Die aanklaer begin smalend sy dokumente in sy aktetas pak, reg om te verdaag en sy oorwinning te vier. Die mense staan op om die finale uitspraak te hoor en te verdaag. Die regter kyk na die advokaat, met hoop in sy oë.


Terwyl die beskuldigde huilend moed opgee en op sy knieë val, gebeur daar iets wat die hele hof na hulle asem laat snak...

Die beskuldigde se advokaat staan op. Hy begin praat met 'n stem vol outoriteit en sekerheid: Die beskuldigde besef die skade wat veroorsaak is, hy besef dat hy niks kan doen om sy straf te betaal nie. Inteendeel, sy straf is so swaar dat geen persoon wat self al misdaad gepleeg het en skuld het dit vir hom sou kon betaal nie. Die prys moet betaal word, regverdige regter...

Ek sal sy straf vat!

Stilte daal neer oor die hof. Almal wat wou verdaag, gaan sit weer. Die aanklaer laat val sy aktetas van skok en gaan sit. Hy weet nie wat om te sê nie. Is dit ooit moontlik dat 'n advokaat die straf kan vat namens 'n beskuldigde?

Die beskuldigde kyk op met oë wat rooi is van al sy trane. Sy gesig is vol verwarring. Daar is 'n flits van hoop en dan weer verwarring.


Om die verwarring uit te skakel, begin die regter praat: Soos julle weet, is die advokaat wel opgelees in die wet. Inteendeel, wat min van julle weet is dat ek, toe ek die wet opgestel het, dit gedoen het saam met die advokaat. Ons het die wet opgestel met die plan en wete dat iemand wat waarlik sy skuld besef en die straf verdien, verskoon kan word op een manier. Slegs een manier.

Die regter lees die volgende: As daar een is wat nog nooit die wet oortree het nie, nie eers in sy hart nie. Een wat regverdig is en nie 'n misdadiger op enige vlak nie. Een wat sonder skuld is, sonder straf wat hy hoef te betaal. As daar so een is, mag hy die straf van die beskuldigde vat, mits die regter dit goedkeur en uit liefde uit so 'n vergunning maak.

Jy sien, verduidelik die regter. So kom regverdigheid en liefde bymekaar. Die een minag nie die ander nie.

Die regter se fokus verskuif weer terug na die advokaat toe en hy vra: Is jy seker jy wil deurvoer wat jy vra? Sonder om twee keer te dink beantwoord die advokaat die vraag, sonder twyfel kom daar 'n harde "JA" uit hom uit. Die regter stel weereens 'n vraag aan die advokaat, soos 'n vader wat sy kind lei deur 'n moeilike en belangrike besluit. So, jy is bereid om die vonnis op jou te dra, tot die dood toe, soos die beskuldigde sou moes? Weereens, 'n onverskrokke "JA".

Toe kom die finale woorde van die regter: Nou goed, deur jou liefde en my welbehae sal die beskuldigde gered word... Daar is 'n oomblik van stilte voor die regter vol emosie bylas: my seun!

===


Kolossense 2:14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Johannes 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Jare na die verhoor dink die mense steeds terug aan wat gebeur het.


===

Van die mense wat daar was, verstaan dit nou nog nie en hulle hou die beskuldigde steeds kwalik vir wat hy gedoen het en hoe hy kon toelaat dat 'n regverdige, onskuldige advokaat - die regter se enigste seun - in sy plek die doodstraf vat. Hulle verstaan dit nie, want hulle harte is hard en hulle sien nie raak dat hulle eintlik self skuldig is nie. Hoe hartseer is dit dat hulle daar was en steeds die gebeurtenis gemis het.


Van die mense sê weer dat die beskuldigde onverklaarbaar verander het na die verhoor. Niemand kan dit menslik verklaar nie, maar dit is asof hy 'n nuwe mens geword het, asof hy 'n nuwe hart gekry het. Dit is soos 'n ruiltransaksie wat plaasgevind het op die laaste dag van die verhoor - die beskuldigde se straf is deur die onskuldige advokaat gevat en dié se lewe en gesindheid is in ruil oor gevat deur die beskuldigde, wat toe onskuldig verklaar is. Dit is asof hulle twee plekke geruil het. Die beskuldigde het inderdaad in sy nuwe identiteit as onskuldige - en selfs die nuwe aangenome kind van die regter - ingegroei. Hy maak ook nie 'n geheim hiervan nie, dit is asof daardie dag en daardie gebeurtenis al is waaroor hy kan praat as jy hom raakloop - orals. Party mense raak skoon ongemaklik as hy so openlik en eerlik praat. Dit is amper asof daar 'n fontein van vars water uit hom vloei - dankbaarheid, vergifnis, goedheid...

===


2 Korintiërs 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Johannes 7:38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

Esegiël 36:26 En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee.

===


Die mense van die dorp wat al deur dieselfde verhoor is, verstaan dit al te goed.

Of jy het nog skuld, of jy is vrygespreek.


Ter afsluiting, liewe leser. Net om die saak na aan die huis te bring moet ons vra, wat was die naam van die beskuldigde? Wie is dit, wat so verskoon en verander is deur liefde? Wie is dit wat nie deur eie werke en goeie dade regverdig kan wees nie? Wie is dit wat hulpeloos huil terwyl skuld besef word? Wie is dit wat nuut geskep is en 'n nuwe identiteit gekry het as kind van die regter? Wat is die persoon se naam?

Sê gou jou naam hardop, liewe leser. Want dit is jy.

Elkeen van ons is die karakter in die storie, ons bevind onsself net op verskillende plekke in die storie. Is jy nog besig om hoop te soek in jou eie groei en goeie dade? Is jy in die hof, sonder hoop? Is jy vrygespreek, verander en by die regter as sy kind? Is jy dalk een van die dorpsmense wat nie kan verstaan dat die beskuldigde nou onskuldig is nie?


Jy, liewe leser, sal weet.

Die regter en die advokaat is aan jou kant liewe leser.

Groete,

Die eens skuldige beskuldigde, die onskuldige, regverdige seun van die Regter.

 
 
 

תגובות


bottom of page